ons betree 'n nuwe seisoen
Eden Gemeente het die afgelope jaar 'n tyd van buitengewone groei beleef. Talle mense het die Here vir die eerste keer begin volg. Ander wat jare lank nie aktief by 'n kerk betrokke was nie, het weer begin kerk toe kom. Dan was daar ook baie nuwe intrekkers vanuit verskillende denominasies wat hier 'n tuiste gevind het.
Uit hierdie wyd uiteenlopende gehoor het talle mense ons gevra om hulle te akkommodeer as lidmate met die versoek dat hulle nie daarmee ook lid wil word van 'n bestaande denominasie nie, maar eerder hierdie fase van hulle geestelike reis net deel wil wees van 'n plaaslike gemeenskaps-kerk. Na baie gebed, nadenke en konsultasie het die leierskap en ouderlinge tot die oortuiging gekom dat Eden Gemeente meer toeganklik vir die breë gemeenskap sal wees indien ons onsself posisioneer as so 'n onafhanklike gemeenskapskerk met 'n sterk plaaslike klem.
Tog is daar ook lidmate met 'n historiese lojaliteit teenoor die AGS van SA en ons sal daarom steeds aan hulle die geleentheid gee om hierdie lojaliteit te betoon. Ons sal dus voortaan 'n ekumeniese beweging wees – mense wat hulle beywer vir eenheid binne diversiteit. In gewone Afrikaans: ons wil saam kerk hou, al het ons verskillende idees en behoeftes met betrekking tot lidmaatskap van denominasies.
Hierdie wending behels dat ons 'n onafhanklike gemeente stig en dit amptelik registreer, maar daarmee nie die historiese AGS-gemeente tot niet maak nie. Ons wil nie bydra tot die tragiese geskiedenis van skeuringe in die kerk van Jesus Christus nie, maar eerder 'n getuienis van eenheid uitleef. Ons betree hierdie nuwe fase met opgewondenheid deur op 'n nuwe manier uitdrukking te gee aan die eenheid van die Liggaam van Christus.
Prakties sal dit beteken dat jy voortaan die vryheid van keuse het om te besluit of jy 'n lidmaat van Eden Gemeente as 'n onafhanklike gemeenskapskerk wil wees, of wel ook deel wil wees van die AGS van SA. Hierdie keuse word bloot uitgeoefen deur jou maandelikse bydrae. Die twee gemeentes sal apart geadministreer word.
Dus:
•Indien jy verkies dat jou finansiële bydraes meestal aangewend word om die werk van Eden Gemeente in die plaaslike gemeenskap te ondersteun en nie ook vir die sentrale fondse en uitgawes van 'n denominasie gebruik moet word nie, kan jy jou bydraes inbetaal by Eden Gemeente se rekening.
Nuwe Rekeningbesonderhede: Eden Gemeente, ABSA Bank, 40745 022 08
•Indien dit egter jou keuse is om met jou finansiële bydraes wel die kerkstrukture van die AGS van SA se administrasie en aksies statutêr te ondersteun, kan jy jou bydraes aan AGS Eden maak.
Nuwe Rekeningbesonderhede: AGS Eden, ABSA Bank, 40745 022 58
Ons glo dat ons 'n geleentheid het om op 'n nuwe manier kerk te wees. Ons wil werklik innoverend dink oor ons rol in die gemeenskap en ons toekoms as gemeente. Ons sien uit na 'n toekoms van omgee vir die mense in ons omgewing en nooi jou uit om saam met ons 'n ekumeniese pad te stap en te sien hoe kerkmure al hoe meer verkrummel voor die krag van eenheid en liefde.
Ons betree waarlik 'n nuwe seisoen!
Website by MultiMax Media
