wees ingelig
kindertoewyding
Om ons kinders aan die Here toe te wy en as ouers te kom om ons afhanklikheid van God vir die groot lewenstaak van kinderopvoeding te verklaar, is vir ons baie belangrik. Met kindertoewyding bevestig ons die verbond wat God met ons het om ons in die opvoeding van ons kinders te seën en by te staan. Ons verklaar saam met die gemeente dat ons ons verantwoordelikheid met nederige afhanklikheid opneem om ons kinders te begelei om Jesus Christus as Redder aan te neem en vir hulle 'n voorbeeld te wees in hoe ons self Christus volg.
Hou die webdagboek dop vir die volgende kindertoewyding.
doop
Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Matteus 28:19
Eden Gemeente bedien mense met die doop as 'n ritueel wat simbolies is van gelowiges se eenheid met Christus, hulle identifisering met sy dood en opstanding en as 'n simboliese geloofsverklaring dat God 'n mens genadig kan vergewe, of te wel van sonde kan reinig. Dit dien ook as 'n geleentheid om te verklaar dat 'n ego-gedrewe lewe afgelê is en 'n ander soort lewe wat deur Christus verkondig en gedemonstreer is, opgeneem is – die lewe van liefdevolle diens. Verder word die doop gesien as 'n stap van gehoorsaamheid. Deur die opdragte in die Nuwe Testament om gedoop te word uit te voer, word 'n grondslag gelê wat dien as herinnering dat om 'n volgeling van Christus te wees, 'n lewe van gehoorsaamheid vereis.
Hou die webdagboek dop vir die volgende doopgeleentheid.
nagmaal
Om met dankbaarheid en ootmoed die grootste liefdesdaad wat ooit gepleeg is te vier, is 'n kern-aspek van ons godsdienstige belewenis. Daar is 'n nagmaalgeleentheid tydens ons Sondagdienste op elke eerste Sondag van die maand en ook gereeld in ons selgroepe.
huwelik
Eden Gemeente begelei voornemende huwelikspaartjies in voorhuwelikse berading en help met graagte in die huweliksbevestiging.
pastorale sorg
Vir pastorale gesprek, tydens siekte en in geval van die afsterwe van 'n geliefde, kontak gerus die kerkkantoor,
of skakel ons na-uurse nommer vir Pastorale Sorg: 083 591 9944
gebedsversoek
Rig gerus enige gebedsversoek wat jy mag hê aan ons deur die gebedsversoekvorm.
algemene navrae
Indien jy enige navrae het, kan jy van hierdie vorm gebruik maak om dit onder ons aandag te bring.
Website by MultiMax Media
