wie's eden?

Eden Gemeente assosieer op verskeie vlakke met ander gemeentes en denominasies en ons definieer ons nie primêr binne denominele verband nie. Ons fokus is hoofsaaklik op die omgewing waarin ons is en ons voel gemaklik om onsself te beskryf as 'n missionele gemeenskapskerk. Ons vind ons filosofies en in verhoudings tuis as deel van Missionet, 'n groep gemeentes uit verskeie denominasies asook onafhanklike gemeentes, wat saam dink oor effektiewe missionaliteit. In 'n sensus wat ons doen oor hoe ons lidmate hulself posisioneer, het byna 'n honderd persent van die nuwe lidmate wat ons vir die afgelope meer as twee jaar voorgestel het, hulself nie tot lidmaatskap van 'n spesifieke denominasie verbind nie. Die meerderheid van ons lidmate beskou hulself as deel van 'n plaaslike gemeente sonder enige spesifieke klem op denominele lidmaatskap. Ons beskou onsself daarom as post-denomineel, terwyl ons tog steeds 'n tuiste is vir lidmate wat histories bande met die AGS het en vir hierdie rede word hierdie bande steeds behou. 'n Paar verduidelikende opmerkings oor die term “post-denomineel”: •Ons is nie anti-denomineel nie. Die grootste deel van die liggaam van Christus funksioneer binne denominele verband. Ons eer die liggaam van Christus binne denominasies, terwyl ons tog ook sien dat daar ruimte is vir groei buite denominele verband. (Ons glo dus nie soos sommige dat denominele strukture noodwendig verkeerd of boos is nie.) •Ons is nie primêr denomineel nie. Ons wil nie 'n nuwe denominasie stig nie. Ons is 'n plaaslike gemeente wat met ander eendersdenkende gemeentes binne en buite denominasies wil assosieer op verhoudingsbasis. •Ons is nie interdenomineel nie. Ons beoog nie om alle leerstellinge en bedieningsfilosofieë van verskillende denominasies te akkommodeer en beoefen nie. Ons posisioneer ons dogmaties konserwatief en ten opsigte van bedieningsfilosofie liberaal en missioneel. •Ons is nie non-denomineel nie. Ons distansieer ons nie van die invloede vanuit ons denominele kerklike erfenis nie. Ons isoleer ons ook nie van die denominele wêreld ten opsigte van ontwikkelinge en verhoudings nie. •Ons beskou onsself as post-denomineel. Ons put uit die ryk erfenis van die Kerk in die geheel en poog om effektief Kerk van Christus te wees in 'n post-moderne wêreld. Ons raak as't ware relasioneel vaster aan die Kerk in die breë terwyl ons tog ons primêre identiteit nie aan een denominasie wil koppel nie. Ons poog om innoverend en kreatief te ontwikkel terwyl ons tog probeer om verlore skatte uit ons wortels te behou en nog ander wat verlore geraak het, terug te vind.
Website by MultiMax Media

You are viewing the text version of this site.

To view the full version please install the Adobe Flash Player and ensure your web browser has JavaScript enabled.

Need help? check the requirements page.

Get Flash Player